top of page

DIE STORIE

Ek vertel altyd vir mense, Asbos het homself laat gebeur...

Opsoek na 'n nuwe huis, kry ek toe 'n nuwe plan. Kom ons begin 'n teater! Dit sal wonderlik wees! Mense is honger vir kultuur, so kom ons gee hulle 'n plekkie om hul beendere te rus en na die wonderlike musikante, muse, kunstenaars en towenaars van ons land te luister.

So het die teater toe 'n huis gevind langs Karoo Café in die lokaal wat gestaan en wag het en reeds 'n naam gehad het: "Asbos". Wie kan nou dit weerstaan?!

Asbos is 'n vaal Karoo bossie van geen noemenswaardige skoonheid nie, maar met baie belangrike eienskappe.

Die as van die verbrande bos word gebruik om seep te maak - Ja! Seep! En sodra ons Asbossie hier in Pretoria groot genoeg is, brand ons hom en kook seep dat dit klap! Dan kan julle almal julle ore uitwas!

Daar word ook verder vertel dat Karoo-reisegers van vroëer, Asbos gebruik het om 'n skerm te pak teen die wind en weer. Hulle het daar binne gekook en geslaap, sonder om die ysige winde van die vlaktes te voel. Sodra hulle verder reis, los hulle dit ongestoord en die volgende moëe lyf, pak net weer die mure bietjie hoër en lê ook heerlik en staar na die sterre.

Asbos het so 'skerm' geword. Hier binne is ons beskut van die 'buite'.

Ons ruik die stof en staar na die sterre...

 

bottom of page